Lapa Uitgewers het vir my Die Bewonderaar deur Erla-Mari Diederiks gestuur om te lees. Dit is die eerste keer wat ek dié tipe boek in Afrikaans lees. Daar is ‘n duidelike waarskuwing op die buiteblad dat dit nie geskik is vir sensitiewe lesers nie. Die boek raak aan onderwerpe soos moord, selfmoord, en geestesgesondheid. Reik uit na SADAG as jy hulp benodig.
Die storie begin na Dominique du Randt se ma se wrede moord. Natuurlik is sy die hoof verdagte en haar psigiater Martin besluit dis sy missie om haar onskuld te bewys. Wat volg is ‘n string ontvoerings, moorde, en die ontdekking van ‘n donker, ondergrondse klub met BDSM-ondertone. Die leser ontdek Dominique se moeilike verhouding met haar ma en kan dus verstaan waarom sy nommer een op die polisie se lys van verdagtes is. Maar wie is Die Bewonderaar? Bestaan hy werklik?
Daar is ‘n paar vloekwoorde, maar die outeur gebruik dit spaarsamig vir maksimum effek. Dis ‘n vinnige lees boek en wanneer jy begin is dit maklik om als om jou te vergeet.
Erla-Mari skilder met woorde. Ek was veral dol oor haar beskrywings van die verskillende kleure blou verf. Ek het niks van die neurotiese Martin gehou nie. Mandy en dokter Ann was wonderlik.
Ek lees nie gereeld Afrikaans nie en ek hou daarvan dat ek die boek vinnig kon lees voordat ek verveeld geraak het. Wat is die laaste Afrikaanse boek wat jy gelees het?
0 Comments